Instede van die gebruiklike dosyn papierdun bundeltjies is sy antwoord dus om beheer oor sy eie oeuvre te behou deur al sy kragte op een enkele versamelbundel toe te spits en oor jare daaraan te skaaf en skuur. Daarmee is Bloeiende Blare gebore. Die titel ‘n huldeblyk aan Whitman en aan die feit dat hy ongelukkig eers in die herfs van sy jare tot die daad oorgegaan het om sy honderde vallende blaartjies gedigte te begin bundel.
Die eerste uitgawe van Bloeiende Blare het in 2009 in Kanada die lig sien, bestaande uit 200 gedigte. Volgens die NALM in Bloemfontein was dit destyds die heel eerste Afrikaanse boek wat ooit in Kanada verskyn het en die enigste selfstandige Afrikaanse literêre werk in Noord-Amerika. Gedurende 2011 het die tweede uitgawe van sy bundel verskyn bestaande uit 250 gedigte. Hiermee verskyn die derde uitgawe beide in Kanada en Suid-Afrika en het dit reeds aangegroei tot meer as 550 gedigte wat wissel vanaf vrye verse, odes, verhalende verse, ballades, sonnette, ens. Met so ‘n reikwydte bevat dit iets vir elke smaak en lewer dit ‘n stewige bydrae tot Christelike en volksbehoudende Afrikaanse verskuns.